Geseënd is die vredemakers |
||
|---|---|---|
Matteus 5:9 |
||
| Ons lewe in `n wêreld vol moeilikheidmakers. Ons is in die afgelope weke weer geskud deur die onrus wat tans in Suid Afrika heers. Die waarheid van die saak is egter dat konflik en onrus die ding van die wêreld is waarin ons leef. Het jy geweet dat sover as wat die wêreld se geskiedenis nagevors kan word daar meer as 14,500 oorloë opgeteken is? Sedert die stigting van die VVO - wat homself ten doel gestel het om einde te bring aan moderne oorloë soos ons dit ken, was daar reeds weer meer as 70 oorloë en meer as 200 noemenswaardige uitbrake van geweld en onrus in die wêreld. Sedert 1960 was meer as 100 lande betrokke by een of ander vorm van gewapende konflik. In ons samelewing eer ons die ou wat die hardste slaan, die dapperste veg, die meeste van die vyand se ouens doodmaak as die held. Selde word die ou wat die oorlog voorkom het gesien as die held. | "vrede is meer as daardie heerlike oomblik in die geskiedenis wat almal gelyk stop om te herlaai" | |
Wie trek die grootste skares, die boksgevegte of die mense wat filosofeer oor vrede? Wie kry die meeste publisiteit? - die ou wat skree: "skiet hulle skiet hulle" of die ou wat maan vir vrede? Tog kom die Here Jesus na ons toe wat in `n wêreld soos hierdie woon, en sê: "geseënd is die wat hulle beywer vir vrede".Vrede is meer as net die afwesigheid van konflik. Jy kan dit nie vrede noem as ons net nie baklei nie - vrede is meer as dit. Daar is vrede in `n begraafplaas, maar is dit die soort vrede waarvoor ons ons wil beywer? Vrede is ook meer as net `n skietstilstand. - met ander woorde ons is nog steeds die duiwel in vir mekaar maar ons baklei nie openlik nie. As ons net eenvoudig op hou om te baklei verander dit meer as dikwels in `n koue oorlog, maar dit bly `n oorlog, dit is nog nie vrede nie. Konflik wat onderdruk word bly stadig smeul totdat dit albei die partye vernietig. Vrede is ook meer as die omstandighede waarin jy jou bevind. - Iemand kan ten midde van die verskriklikste konflik en onrus ware vrede in sy hart ervaar. Iemand kan ware oorvloedige vrede in homself en met die mense rondom hom beleef al is sy wereld besig om te brand. Terwyl iemand anders weer in die wonderlikste omgewing waar daar geen sprake van ongemak is nie, in die grootste onvrede met homself lewe. Omdat hy nie vrede in homself beleef nie is hy besig om almal rondom hom om te roer tot onvrede. - Vrede het dus niks met jou omgewing te doen nie. Dit is iets wat binne in jou gebeur. |
||
| Ware vrede is eers moontlik wanneer daar vrede tussen jou en jou Skepper bestaan | Iemand wat nie in harmonie en vrede met sy Skepper leef nie, kan nie in vrede met `n ander mens op hierdie aarde leef nie. Waarom dink jy word Hy "God wat vrede gee" genoem (Rom 15:33) Job 22:21 stel dit onomwonde: "Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef, en so sal jy voorspoed hê." Die mens se sondes en oortredinge het die vrede wat daar tussen ons en God was vernietig. |
|
| Omdat daar nie vrede tussen jou en God is nie is enige ander vorm van vrede onmoontlik. Kom ek stel dit so: - jou verhouding met die Skepper en die Onderhouer van jou lewe is sekerlik die belangrikste verhouding waarin jy kan staan nie waar nie? Sê nou maar jy het `n hartoorplanting ontvang en jou liggaam verwerp daardie hart - wat gaan met jou gebeur? - jy sal doodgaan want jou liggaam lewe nie in harmonie met die presiese ding wat vir jou lewe gee nie. Dit is waarom daar so bitter min mense op hierdie aarde bestaan wat werklike vrede makers is, want daar bestaan so min mense wat werklik in vrede met hulle Skepper leef. | jou verhouding met die Skepper en die Onderhouer van jou lewe is sekerlik die belangrikste verhouding waarin jy kan staan | |
Die sonde het die mensdom so befoeter dat hy net vir homself lewe en nie `n duit omgee hoe dit met die ander party gaan nie. Dit is nie natuurlik vir 'n mens om in vrede met ander mense te lewe nie. - Vrede kom nie vanself nie, want `n mens is so sterk geprogrammeer vir oorlewing en selfbeskikking dat hy eintlik alle ander partye as teenstanders in die groot wedloop sien. Die natuurlike mens - die mens wat nog nie deur God se Gees vernuwe is nie - die mens wat nog nie weer gebore is nie, kan nie in vrede lewe nie want vrede is die vrug van die Gees van God. Wanneer daar konflik tussen mense bestaan is dit as gevolg van sonde. Neem die sonde uit die situasie weg en daar sal vrede wees. |
||
| Dis waarom Jesus Christus na die aarde gekom het: om vrede te bring | Dit was die rede waarom Jesus Christus na hierdie aarde gekom het - om ons sondes en oortredinge op Hom te neem en so die prys daarvoor te betaal. Deurdat Jesus ons sondeskuld op Hom geneem het word ons voor God vrygespreek van ons sondes. Ons skuld niks meer nie - ons is vrygespreek- daarom bestaan daar, van die oomblik af wat jy Jesus se verlossing aanvaar het, vrede tussen jou en God. En omdat daar vrede tussen jou en jou Skepper is, moet jy ook 'n vredemaker wees. | |
| Wanneer twee mense wat deur God vrygespreek is in Jesus Christus, en wat nuut gebore is, by mekaar uitkom en die rede vir die konflik tussen hulle in die oë kyk, dan is ons op die pad na vrede. Daardie twee mense is op daardie oomblik nie meer besig om te bedink hoe elkeen van hulle afsonderlik tevrede gestel kan word nie, hulle fokus draai nou na God en na sy eer toe. Hulle vra hulleself nou af hoe hulle God kan verheerlik deur die oplossing van die konflik. So aanvaar hulle mekaar met hulle verskille en foute en besluit hulle om mekaar met foute en al lief te hê. Ware vrede, goddelike vrede kan slegs plaasvind waar God deur sy Gees in beide die partye is. | ||
| Om `n vredemaker te wees is nie `n opsie nie - dis `n opdrag. Rom 12:18 se "As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense." - God se opdrag kom na sy kinders toe om in vrede met alle mense te lewe. God weet egter wat ek en jy op hierdie aarde beleef. Hy weet dat ons tussen selfsugtige en befoeterde mense moet lewe. God weet dat dit hoegenaamd nie maklik sal wees om in vrede te lewe nie, maar tog kom gee Hy die opdrag: - "so ver as wat dit van julle afhang..." - dit beteken dat jy altyd en in alle gevalle die vredemaker moet wees. Al maak die ander ou dit vir jou hoe moeilik om in vrede te leef, moet jy steeds die vredemaker wees. As die ander ou uit sy pad uit gaan om jou pogings tot vrede te befoeter, dan doen jy wat jy kan om vrede met hom te bewerkstellig. - solank jy die genoegdoening het dat die onvrede wat daar tussen julle bestaan nie jou skuld is nie. | Ware vrede kan slegs heers waar God deur sy Gees in beheer van beide parye is. | |
Mark 9:50 "Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe." Waarom dink jy word sout en vrede langs mekaar in die selfde vers genoem? Want ons as gelowiges is maar yl gesaai in hierdie wêreld. Sout het egter nie nodig om vreeslik dik gesaai te wees om `n verskil te maak nie - 'n klein bietjie sout kan baie verroting teenwerk. So behoort ons, al is ons min vrede te maak waar ons kom, so kan ons `n verskil maak. Wat word van `n vredemaker verwag? God verwag van jou om eers self in vrede met God moet lewe voordat jy 'n ware vredemaker kan word. - Jy moes eers die verlossing deur Jesus Christus aangeneem het, die vryspraak van jou sondes aanvaar het, toegelaat het dat die Heilige Gees jou vervul en jou nuut maak voordat jy `n vredemaker kan wees. Hierdie land van ons is op `n mespunt gebalanseer. - aan die een kant het ons die Malemas en die jeugliga wat skreeu terwyl die AWB en ander ouens aand die ander kant dreig en beledig. - Ons gewone mense kan nie meer rustig op die draad sit en niks doen nie. Ons moet nou ons gewig ingooi om seker te maak dat die ding na die regte kant toe val. Ons moet iets daadwerklik begin doen. - ons moet gehoorsaam wees aan die opdrag om vredemakers te wees en iets daadwerklik begin doen. Die Here Jesus vra nie van jou om op die straathoeke te gaan staan en preek nie nie. Hy vra nie van jou om die burgemeester te gaan soen nie. Al wat die Here van jou en my verwag is dat ons dit ons hoogste prioriteit sal maak om in vrede met alle mense te lewe - soos sout. |
||
| Waar jy ookal gaan, met wie jy ookal deurmekaar is - jou huisbediende, - petroljoggie, die meisie agter die toonbank. Dit is nou die tyd dat die ware gelowiges van hierdie land `n verskil begin maak. As ons as gelowiges `n positiewe gesindheid in een ou se hart kan bring tree hy dalk volgende keer anders teenoor `n volgende ou op wat op sy beurt weer hoop kry in `n vreedsame oplossing ir ons land. ons vir mense moet wys dat nie alle blankes is soos wat hulle dink ons is nie. Doen jou beste om die vrede wat van God kom uit te straal, beywer jou vir dade van vrede. As daar konflik ontstaan met `n malema moet jy weet dat jy `n innerlike krag en sterkte het wat hy nie het nie, jy is die een wat die vermoë moet vertoon om die konflik rustig en kalm te hanteer want jy is `n kind van die Koning en Sy Gees woon in jou om jou te bekragtig. | Die Here vra dat ons om vrede te maak as ons hoogste prioriteit sal sien. | |
Bring vrede deur die manier wat jy daagliks lewe - betoon geduld met die ou liewe medelandsburger wat die taxi bestuur. Wees verdraagsaam teenoor die mama wat nog so 'n ou bietjie lomp in die verkeer is. - Leer om die gesindheid van Christus uit te straal - dit is die enigste pad na vrede. Die beloning van die vredemaker Die Here Jesus se van die vredemakers: ".... want hulle sal kinders van God genoem word." Die beloning van die vredemaker is dat hy bekend sal staan as `n kind van God. Die feit dat jy `n vredemaker is sal jou bo alle verdenking identifiseer as kind van God - as jy `n vredemaker is sal jy bekend staan as 'n kind van God. God se in Sag 2:8 - wie aan een van sy kinders vat, vat aan God se oogappel. Opsomming: - as God jou lewe verander het moet jy `n vredemaker wees - dit is God se opdrag aan jou. As jy `n vredemaker is bevestig dit vir jou as kind van God. - as kind van God kan sy verserker wees van God se volgehoue sorg en voorkeurseen.
|
||
| Tuisblad / Ons mense / Skakel in / Preke / Nuusbrief / Jaarprogram / Leesprogram / Waarvoor ons staan / Geskiedenis / Kerkgebou / Fotogallery /Kranspoort | ||